Bittereinder feat. Toast Coetzer, Hunter Kennedy, Ilze Ontong, M.J. du Preez, Andries Bezuidenhout, Mavis Vermaak & Tom Gouws - Regstreeks: Die Dinkmasjien paroles de chanson

paroles de chanson Regstreeks: Die Dinkmasjien - Andries Bezuidenhout , Bittereinder , Hunter Kennedy , Mavis Vermaak



Toast Coetzer:
Hierdie is 'n klein nota nou
Kom regstreeks uit die voël se kou
Meng jy sterlig met jou skaad
Swem jy saans saam jou haat
Uit jou oog en jou hart en jou mond
Kom jou ma en jou pa en jou broer se kind
Wyd oor die aarde saai jou smart
In die donkerland swem jou sein
Regstreeks oor die wegmaak van
Die mure die grafte die gragte tussen ons
Graag pleister ons die toekoms heel
Regstreeks oor die regmaak van
Die man met die plan in die Ponte-toring
Die vrou wat wou in die fyn van haar mou
Lig julle koppe hou op met skrou
Hoop op die paaie
Hoop op die water
Hoop
Jaco van der Merwe:
Jy sal nooit weer hoef te baklei oor 'n remote
Of skaam te kry of trots te wees oor jou vyf voorname
Wat in die baarde van jou swart en wit stamvaders
Jou deur bloed en babadoop benader
Genade, ons is vasgenael aan die kassie
Soos spykers in 'n kruis (elke huis het mos een)
Ons passie word uitgesuig of verdrink soos die dopsisteem
Stilletjies opgeneem maar luidkeels
Word ons wydsbeen-wielie-walie-wawiele viral
Daar wapper 'n vierkleur irriterend op die skerm soos 'n vlam
O nee, dis tandepasta wat als kan doen in een, mam!
Maar meeste van die volk besit dan skaars een tand
Sit jou vaderlandromanse eers eenkant, bewegings sonder weerstand
Ons blink in die dof-lig en dink oor die redes hoekom ons pa's in die hof sit
As ons deur die vrot en trots sif verander ons vonnis na belofte
Hunter Kennedy:
Staan op
Staan op
Gaan gym
Was jou
Eet
Werk toe
Kyk goed
Werk 'n bietjie
Eet
Kyk goed
Werk 'n bietjie
Goed
Dis huis toe gaan tyd
En dit hang af waar jy bly
Hoe lank dit jou gaan vat voor jy weer kan
Eet
En goed kyk
En slaap
Herhaal
Herhaal
Ilze Ontong:
In 'n oogwink as jy mooi dink, spook die beelde by jou.
Haar kontoere vorm vloere, waar jou brein herkou.
Sou jy terugstaan by 'n ligpaal en die waarheid sien.
Mag jy wonder oor die inhoud wat jy jouself mee bedien.
Sien 'n prentjie van die mensies om 'n vuurtjie sit,
Hul vertel stories van legendes, vandag noem ons dit bid.
So 'n beeld vorm norms waar refleksie sou lê,
Waardes en waarheid in gebare wat wyse manne sou sê.
Is there disgrace in the foe of the power of one?
Dancing to freedom was exchanged with core battles of tongue.
Mr President is a synonym for the blaming game.
Bouncing ignorance, feed the system with more hunger pains.
Truth is lacking yet we're stacking in front of television sets.
Maar change die channel want ek kyknet sodat ek saam kan klets.
Onthou jy die kringe in 'n bos, waar vuur die middelpunt was?
Boek met bladsy, staan opsy; Boks met beeld draai mens in haar as.
M.J. du Preez:
Ag ekskuus meneer, ag teken my petisie.
Ekskuus meneer, het u dalk tyd vir 'n revolusie?
Ek ly aan 'n illusie oor my mede mense se evolusie
Want ek het my eie visie maar ek's besig om my te vervies hier.
Ekskuus meneer, dink u nie ook dis sies hier?
Liewe Meneer, al wat ek na drang is 'n bietjie rusie!
Ek kan rêrig nie glo dat u nie my kant wil kies nie.
Al wat ek rêrig kort is 'n klein bietjie publisi...
Tyd om te go! Genoeg ou, ek's moeg nou.
Ek verstaan jy wroeg gou, maar jou ou vlag vlieg flou.
Ekskuus bro. Dude, wees verseker, as jy nie die regering vertrou,
Wil jy hulle verseker nie met die doodstraf aanskou.
Uh, maar... meneer!
Hou op met al julle komberse, hou op met al julle brood.
Minder mense, minder gaan dan dood.
Wees die verskil wat jy in die samelewing wil sien
So hang jouself as jy weet dis wat jy verdien.
Andries Bezuidenhout:
Die Grootrivier is elders groot,
Hier's dit bloot ʼn sloot met gal
Wat skrik tot slik en dan
Winterkoud die grond in syg.
Iewers brand boeke in ʼn biblioteek,
Rook wat eenbeen regop staan
Dan deur wind geamputeer
En wegbloei uit my truspieëlraam.
Iemand soebat in Frans en Lingala,
Maar ʼn buiteband word aangesteek.
Koppe is die doppe van die omelette
Wat moet breek om die storie te wreek.
Hou die landskap wat na agter verdwyn
Vir net nog ʼn ruk in kwarantyn
Dit het meer as winter onderlede
En is siek siek siek, siek siek siek
Mavis Vermaak:
Vergeet, vergeet van 'n revolusie
Die revolusie krap in asblikke
Die revolusie vra R2
Die revolusie wil jou venster was
Dit is vuil en dit snuffel langs snelweë
Dis alleen en dis swanger op twaalf
Die revolusie stort ineen op die golfbaan
Dit hou jou kos warm en dit wag
Vergeet, vergeet van die revolusie
Dit brand soos 'n droom, oneindig, onblusbaar
Dis ewig soos alles, dit reis deur die lug
Dis die sopkombuis van die kosmos
Dis die diepste sug wat daar is
Tom Gouws:
Die fusie van rewolusie
Smelt tradisie en illusie.
Woorde word ons ammunisie,
Kartetse van seer presisie.
My tongsambok blitsklits die taal
Gee die teken vir die vuurverhaal.
Rewolusie dwing die hek oop,
Slaan rymend vensters met 'n vuis.
Op asem se kragveldkontoere
Dreunsing boer, pandoer en hoer.
Die fusie van rewolusie
Staan op my pa se stoep en roep:
Maak oop jou hart maak oop jou deur.
Laat my binnekom, laat my bly.



Writer(s): Jaco Van Der Merwe, Peach Van Pletzen, Louis Minnaar


Bittereinder feat. Toast Coetzer, Hunter Kennedy, Ilze Ontong, M.J. du Preez, Andries Bezuidenhout, Mavis Vermaak & Tom Gouws - Die Dinkdansmasjien
Album Die Dinkdansmasjien
date de sortie
02-11-2012



Attention! N'hésitez pas à laisser des commentaires.